My pakkie


Desember 2011

‘n Jaar of drie gelede het ek eendag hardop vir myself gesê: “Iewers is daar ‘n groot misverstand in en oor ons wêreld.”

Ek kon dit nie heeltemal vir myself verwoord nie, maar die besef het gegroei ten spyte van my impuls om dit dood tedruk. Tot die punt waar my hele binneste self kaal gestroop is van alles wat ek altyd ervaar het as seker en sekuur.

Dit was ‘n reis van bevraagtekening sonder die gebruiklike bron van antwoorde; waar die bevraagtekening op sigself natuurlik met al die beskikbare en tradisionele skuldgevoelens gepaard sou gaan – lank, alleen en soms uitputtend.

Ek kyk nou anders na die lewe en die gebeure daarbinne.

Ek sien ‘n ander dinamika as wat ek myself tevore sou toelaat om te dink of hardop uit te spreek.

Die praat in my binneste het grootliks verander:

Ek praat met Een wie ek deel ag van myself en van Wie ek myself deel ag om te wees; dit hou my bymekaar en in kontak met wat ek glo werklik in die wêreld aan die gang is.

Ek laat dit agter wat ek as wanvoorstelling ervaar en vind ‘n rede om in te sluit eerder as om uit te sluit – en selfs te verwerp; om objektief te wees eerder as om die een te wees wat oordeel.

Wat ek het, is aan my gegee en onverdiend. Wat die toekoms vir my inhou, is soos ‘n toegedraaide geskenkpakkie waarvan die inhoud nog nie ontbloot is nie. Dit lyk nie presies soos dié van die persoon langs my nie, maar dit is myne. Ek kan dit nie vir iemand anders aangee nie, want dit is ek wat dit moet optel en self daarmee loop. Dit is die pakkie van die lewe wat aan my uitgedeel is en dit is my lewe.

In kontras met al die erns hierbo, wil ek verder in hierdie briefie net vir almal vertel hoe dankbaar ek is vir dinge wat op ons pad gekom het. Soos die feit dat al ons kinders hulle in Ermelo kom vestig het! Ons het dus die voorreg om ons kleinkinders elke dag te sien. Ons spot daarmee en vra vir mekaar: “Wat het ons verkeerd gedoen?!” Maar natuurlik ag ons onsself uitermate bevoorreg in dieselfde asem.

Ek wil verder net vertel dat daar vir ons sover drie kleindogters geskenk is. Dat tweetjies van hulle ‘n identiese tweeling is wat voor geboorte gemonitor moes word omrede die voeding van die tweetjies binne die baarmoeder gevaarlik verskil het. Dat die tweetjies toe op 8 Julie 2011 vir daardie rede ‘n hele 8 weke voor die verwagte datum van 1 September uitgehaal is en 5 weke in intensiewe sorg verkeer het. Dat hulle in die laaste 3 maande gesonde en oulike babas met fraai gesiggies en vriendelike glimlaggies geword het, insluitend al die bekende simptome van tandekry en koors en alles anders wat daarmee gepaard gaan.

Ek wil vir jou vertel hoe ons onsself verwonder oor die potensiaal wat oopgesluit word wanneer twee selle saamsmelt en ‘n nuwe mensie gevorm word. En die rykdom van faktore wat kan bydra tot die kwaliteit van ontwikkeling. Nog te meer die verwondering oor die enkele eiersel wat vir een of ander rede verder verdeel het om vir ons met ‘n identiese tweeling te seën.

Ek wil vir jou motiveer om ook op ‘n klip te gaan sit en die ruimte in te staar voor die jaar verby is.

Om op jou eie manier vrede te maak met die geskenk van die lewe soos dit aan jou gegee is.

Met alles wat dit behels.

Huil wanneer jy wil huil en lag as dit tyd is om te lag.

Maar laat weet my asseblief soms hoe dit met julle gaan.

Dankie dat ek vir ‘n oomblik die professionele verantwoordelikheid opsy kon sit en jou effens kon wys wat in my binneste aangaan.

My wens vir jou is goeie gesondheid, lewensinsig, familievreugde, vrugbaarheid en vreugde in die taak waarmee jy jou in 2012 gaan besig hou.

#Yearend

Recent Posts
Archive
Search By Tags
No tags yet.
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square

WEBSITE MAINTENANCE: DeodataDigital.co.za

LBurmeister Ondernemings CC (LBO-Trio / Sure-Enough) Authorised FSP (FSP 3186)

Shortterm Insurance & Medical Schemes: Tel 017-8195299/88 / 017-8197779

Postnet Suite 979, P/Bag X9013, Ermelo, 2350 | Heide Avenue 22, Ermelo, 2351