Vir eers klaar

Desember 2013
Almal is huis toe
Lankal
My kantoorvensters staan wawyd oop soos altyd
Blinders so hoog moontlik opgetrek om voltyds die natuur deel van my werksomgewing te maak
Dis pikdonker en stil
Geen trok vanaand in die pad langs die spoor af nie
Geen hond wat blaf nie
Ook geen hoender wat ontydig kraai soos sommige aande wanneer ek hier sit en werk nie
Mandela is dood
Ek het vroeër vanaand – terwyl ek gaan bad het – geluister
“Reconcile: Bring together”
Toe terug kantoor toe om alles af te skakel
Ek wou skielik ook klaar gewerk wees
Maar toe kom sit ek
En hier vlieg geskiedenis by my verby
Ek is te stadig om dit neer te skryf
Dan net ‘n reel of drie
My ouers op die plaas – lankal oorlede
Bergtoppe klou geel aan die son waar ek as kind op die stoep sit en kyk hoe alles aand toe gaan
Trekkergeluide word harder en verdwyn weer soos dit al verder wegry na die oornagstore van boere
Naggeluide
Daar was ‘n dag toe Verwoerd dood is
Ek was nog nie ‘n grootmens nie
Nege jare oud
Het buite op die werf staan en kyk hoe plaaswerkers die man se dood met trane betreur
Het self min geweet van ras en klas
Toe nog net gelewe vir die brood op ons tafel en die kindwees wat sou verbygaan
Spring die geskiedenis terug na die hede
En ervaar ek die stilte van die aand nog ‘n slag hard
Ek sien geen straatlig naby brand
Amper asof díe ook afgeskakel is
Dis klaar: dis einde van die jaar.
Een vreeslike jaar vir party
Een groot jaar vir ‘n paar
Gevoel daaroor gemeng
Spreek-en-profeteer kan ek nie
Die toekoms is een wat kom
Heeltyd, sonder om jou vooruit te laat weet wat joune is wat wag
Jy stap hier in die gangetjie af na ons kantoor toe – elke dag ‘n ander – maar soms meer as een keer jy
Jy het ‘n nood wat net jou nood is, maar om daarvan te weet is om te deel
As jy stop terwyl jy by my oop deur verbygaan, lees ek die boodskap op jou gesig
Dit gryp my hart
Dit verander my
Ek wil myself deel
Dankbaar
In Afrikaans
Harts-taal: onvertaalbaar
Dankie.
Vir al die jare se ken
En die voorreg om vir jou te dien
Nooit wil ek dit as vanselfsprekend aanvaar
Net bloot elke keer die beste gee – terwyl ek kan
En die wat reeds rus, wat nooit weer hier in sal loop
Wie se asem en stoffies een raak met die natuur
Vir jou wil ek my vooroor buig
Ons sal eendag ook kom
Waar jy gaan
Aan almal wat kan uitsien na ‘n nuwe dag
Dis tyd om kerse te brand
Rondom jou te kyk
Die in jou lewe opnuut te waardeer
Jy weet nooit wanneer is die laaste keer
Mag daar goeie dinge op jou wag
Kersnag
Goeienag