Oomblikke

Desember 2014
Vir wie dit sal verstaan
Die sonnetjie is besig om te sak agter die lang begrafnisbome op my buurman se erf
‘n Lang strook heldergeel wolk hang teen die blou lug
Die bome hier buite my kantoorvensters vertoon reeds donker
Hulle is ongetref deur die heldergeel strook daar aan Morgenzon se kant van my af
Dis Vrydag middag half sewe
My personeel is lankal huis toe
Sommige oppad Kaap toe
My kop en my hart is besig om na ‘n kant toe te gaan oor die jaar wat verbygaan.
Deur die jaar was daar so baie oomblike wat ‘n paslike onderwerp vir ‘n briefie soos hierdie sou kon wees.
Maar dis asof my praat minder wil wees as al die oomblike wat ek gesamentlik hier sit en oproep.
Dalk net so een of twee om te deel:
Ek staan ander aand in my kombuis
Wag vir die koffieketel om te kook
Toe pas klaar gewerk en wil gaan bad en verder niks doen
My een hand vind ‘n teelepel in die laai
My ander hand die “Little Bee Honey” op die mikrogolf langs die ketel
Ek drup die goue heuning stroop tot die teelepel wil oorloop
Die ketel kook amper
Die teelepel vol heuningstroop nou onderstebo op my tong
Ek maak my oë toe
Ek word 11 jaar oud
Ek staan langs die kombuistafel met die blou plastiek kleedjie… op Braamrivier
My pa het pas ‘n enamel skottel vol vars heuningkoeke op die tafel neergesit
Hy haal die laaste paar worstelende bye van die heuningkoeke af
Onderin die skottel is daar reeds ‘n dammetjie heuning stroop – uitgeloop
Meeste heuningkoek selletjies nog toe
Ongelooflik die perfekte ontwerp daarvan
Dan vat my pa ‘n mes en sny vir my ‘n stukkie af
Ek sit dit heel in my mond
Die geur ontplof wanneer ek byt
Heuning stroop vul my mond
Hierdie kant kook die ketel nou
Ek sluk die soet heuningstroop
Ek maak my koffiebeker vol
Hierdie was maar een oomblik
Aangename oomblik
Nog een:
Dis Oktober.
Ek staan in Pretoria Oos Hospitaal
Saam met die familie wat ek bygekry het toe Heinrich met Erica getrou het
Ons is almal lief vir mekaar
Dis die tweede keer dat ons saam op hierdie selfde plek staan
Vandag ‘n bietjie anders
Ons sien hulle tweetjies in die teater in verdwyn
Terwyl ons agter die rooi streep moet bly staan waar ons nie verder mag gaan
Die pediater wat verbykom
“Piets daai boudjies doktertjie….ons wil daai baba hoor skree”
Hy glimlag met begrip
Dan verdwyn hy ook die teater in
Nou die wag
Ons neem fotos van mekaar waar ons sit
Praat amper niks
Dis beter om die stilte te hoor
Want in stilte is dit makliker om ‘n baba te hoor skree.
Minute gaan verby
Ek gee daai baba nog ‘n kwartier dan moet hy skree.
Kalmeer
Hanli neem nog ‘n foto
Almal neem notisie van die tyd
In stilte
Ek skop amper my stoel onderstebo soos ek opvlieg
“Daar skree ‘n baba”
Hard!
Gang toe
Agter die rooi streep
Gaan sit op die grond teen die toonbank
Wag
Daar skree hy weer!
Hoe dankbaar…
Huil
Lag
Bewe
Dit vat lank maar dis niks
Daar kom hulle!
Gang af
Stop by ons
Maak die broeikas oop
Klein bondeltjie pragtigheid in ‘n hospitaal handdoek
Gesiggie steek uit
Ons hou vas om die beurt
Mens se oë gaan vanself toe
Die keel trek toe
Van dankbaar
Dit was ‘n oomblik
Onbeskryflik
2015 is nou om die draai
Ek is jammer
Vir die wat vars besluit het om nie meer saam te wees nie
Wat voel dit is beter om op te breek
Dit skep oomblikke
Kinders word geraak
Hoe vier ‘n mens as daar geen saam is nie
Ek vat my eie bootjie
Ek meer vas
Die oomblikke wat verby is… goed en sleg… is verby
Daar rol ‘n traan
Daar wag nuwe oomblikke
Onbekend
Saam
Mandela is laas omtrent die tyd dood
Dit was my vorige brief
‘n Hond het daardie aand hartseer bly blaf… anderkant die treinspoor
Ek het menige aand daarna dieselfde hond hoor blaf
Nog steeds hartseer
Tot my verbasing
Dit was toe nooit oor Mandela nie
Dit is sommer maar net die hond se manier
Ek hoop elkeen van julle sal in 2015 vasklou
Maak nie saak wat gebeur nie
Op julle eie manier
Sinvolle oomblikke skep
Saam
Hierdie kan ek nie in Engels vertaal nie
Dit was gevoel in Afrikaans