In 'n druppel


Desember 2015

Dis asof ‘n mens dieper raak hoe ouer

Goeters gaan nie sommer net verby ‘n mens nie

Jy “pause” by goeters wat vir ander dalk nog net verbygaan

Daar is ‘n lewe vol ervaringe om ons

Momente van lewe

Soos ‘n druppel water op ‘n blaar

Dit stop my

Ek sien in ‘n druppel water die totale skepping van onder en van bo

Ek hoor in die wind hoe roer die lewe van onophoudelike energie

As dit stil is, gaan my gedagtes verder as die wolke

Dit laat die son so naby voel

Soos die Waarheid van die lewe

Maar dan is daar ook ander stories

Party is seer aan die lyf

Party is seer aan die hart

Jy het jou voet verloor die jaar – suikersiekte

Beroerte gehad

Jou kind is dood

Werk verloor

Dit is droog

Alzheimers in die familie

Diagnose kanker

Lys oneindig

Jy het gedink jy kies reg, toe kies jy verkeerd

Egskeiding

Skielik twee huise, twee elektrisiteite , twee stelle beddegoed , twee van alles

Duur is die lewe en nog duurder na ‘n egskeiding

Met kinders wat maar vir hulleself moet kry

En so suiker ons aan van dag-tot-dag

Met ons eie pakkie lot

En jou eie voel altyd erger

Ek kyk of daar ‘n boodskap in die wolke is

Die son is besig om te sak

‘n Briesie roer net so die linkerkant van die boom by die poeletjie

Die Krismisrose is blou en wit

Ander jare was dit pienk en wit

Hulle staan rondgesond en sterk

Van gister se lekker reen

My oog val op die grond

Onder die Krismisrose en langs die poeletjie

En ek wonder wat is dit in hierdie grond wat my Krismisrose so blou maak

Diep Blou!

Heinrich sal vir my ‘n wetenskaplike antwoord gee as ek hom vra

Ek sal hom glo

Want ek het hom geglo vandat hy ‘n klein seuntjie was wat vir my alles wou vertel

Ek was die een wat na hom sou luister

Ek wou

As hy vertel van die maan

En die son

En hoe dinge werk

Hy sou aanhou tot ek ophou luister

Vandag het ons ‘n hele paar kleinkinders

Met te min tyd om te luister

Dis die waarheid

Jy loop oor die pad van my gedagtes

Van voor af en van oral

Ons kruis

Ek wil luister

Aanhou luister

Tot my gedagtes alles gevat het

Om te kan beteken

Die wolke praat met my

Ek luister hoe dit nag word

Middel Desember

2015

Waar ek hier sit

Vat ek my en jou droogtes

En gee dit vir die wolke

Dis waar ons hulp vandaan kom

Dis my storie

Middel Desember

2015

#Yearend

Recent Posts
Archive
Search By Tags
No tags yet.
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square

WEBSITE MAINTENANCE: DeodataDigital.co.za

LBurmeister Ondernemings CC (LBO-Trio / Sure-Enough) Authorised FSP (FSP 3186)

Shortterm Insurance & Medical Schemes: Tel 017-8195299/88 / 017-8197779

Postnet Suite 979, P/Bag X9013, Ermelo, 2350 | Heide Avenue 22, Ermelo, 2351